JHC verskaf veel meer as net huise vir armes

© Sake Beeld

“Die maatskappy is al so oud soos die demokrasie in Suid-Afrika,” het me. Juanita Prinsloo van die Johannesburg Housing Company (JHC) gister gesê.

Die JHC is verlede Donderdagaand bekroon met ’n spesiale toekenning vir maatskaplike verantwoordelikheid by die Groter Johannesburgse Sakekamer se onderneming van die jaar- prysuitdelingsfunksie.

Dié maatskappy verskaf maatskaplike behuising in die middestad van Johannesburg waar hulle sowat 22 geboue bestuur.
“Maatskaplike behuising beteken nie noodwendig laekoste-behuising nie. As ’n mens ’n hele gebou vol behoeftige mense saamsit, dan kry jy ’n krotbuurt-situasie.”

Die JHC laat mense van verskillende inkomstegroepe in dieselfde gebou saambly om ’n gemeenskapsgevoel te skep.
Hiermee poog die maatskappy om nuwe lewe in die middestad te blaas en kriminele elemente te beperk.

Dit is egter nie waar hul pligte stop nie. Oor die afgelope jare het JHC toenemend op maatskaplike diensaksies ook gefokus. Dit het tot die stigting van Makhulong A Matala gelei, ’n fi­liaal van die maatskappy, wat op die verdere vestiging van ’n gemeenskapsgevoel ingestel is. Deur maatskaplike aksies soos ’n netbal- en sokkerliga tussen die geboue te bedryf, word ontspanning en ’n groot mate van ontvlugting aan die inwoners gebied. ’n Nasorgsentrum vir die kinders in die omgewing het ’n studente-onderwyser wat kan help met huiswerk en toesig hou in die ure ná skooltyd totdat ouers terugkeer van die werk af. Met hul Hardship Assistence Programme bied die onderneming ook ondersteuning aan dié wat die afsterwe van ’n geliefde moet verwerk.
In die toekoms mik JHC daarna om ook sy werksaamhede na ander dele van die land as bloot die Johannesburgse middestad uit te brei.