Inwoners trek gou by Brickfields in

Alicestine October

© Sake-Beeld

Die grootste openbare en private vennootskap in Suid-Afrikaanse behuising, die Brickfields-behuisingsprojek in Newtown, Johannesburg, is goed op dreef.

'n Vorderingsverslag oor die ontwikkeling is Vrydag bekend gemaak en het saamgeval met 'n terreinbesoek deur onder andere mnr. Taffy Adler, uitvoerende hoof van die Johannesburgse behuisingsmaatskappy (JHC) en me. Lindiwe Sisulu, minister van behuising.

Kapitaalinvestering van sowat R120 miljoen is in dié projek belê. Die openbare sektor se belegging beloop R77,3 miljoen en dié van die private sektor R47,5 miljoen.

Instellings betrokke by die projek sluit in die nasionale departement van behuising, die Fonds vir Armoedeverligting, Absa, die Gauteng Partnership Fund (GPF) en Anglo American.

Bouwerk het in April verlede jaar begin en die eerste inwoners sal in Julie vanjaar intrek. Volgens Adler sal dié ontwikkeling sowat 8 000 mense huisves.

"Ons teiken mense wat in die R1 500tot R7 500-inkomstegroep val," sê me. Elize Stroebel, uitvoerende hoof van die GPF.

Sisulu het tydens die terreinbesoek gesê sy is trots op die projek, maar het haar kommer uitgespreek oor die veiligheid van inwoners in dié gebied. Sy het die metroraad aangeraai om na dié probleem te kyk.

Die Brickfield-ontwikkeling is 'n klipgooi van die Markteater in Newtown.